Mini suurlemoen meringue kaaskoekies

Ek het hierdie naweek hierdie kaaskoekies vir ‘n doop gemaak…. Ek moet sê, volgens almal se terugvoer, is hierdie een nogal die moeite werd om by jou resepte te sit. Dit lyk pragtig, en smaak heerlik. Hierdie is natuurlik nou nie ‘n gesonde koekie nie….

Indien jy wil, kan jy dit een groot kaaskoek maak van ongeveer 26 cm, in plaas van die klein kaaskoekies.

Kors:
1 pakkie broskoekies (eat-sum-mor), fyngemaak
Ongeveer 100 ml botter, gesmelt

Vulsel:
900 g roomkaas, by kamer temperatuur
375 ml suiker
6 eiergele
30 ml meel
250 ml suurroom
30 ml fyngerasperde suurlemoenskil
20 ml suurlemoensap

Suurlemoensmeer: (jy kan suurlemoensmeer koop of jou eies maak…. Hier is die resep)
3 suurlemoene
375 ml suiker
125 g botter, by kamer temperatuur
4 eiers
2 eiergele

Meringue bolaag:
6 eierwitte
375 ml suiker

Metode:

  1. Maak eers die Suurlemoensmeer: Rasper die skil van die suurlemoene baie fyn. Druk die sap van die suurlemoene uit totdat jy 125 ml het.
  2. Plaas die skil, suiker en botter in ‘n mengbak en klits tot romerig. Voeg die eiers en eiergele een vir een by.
  3. Voeg die suurlemoensap laaste by.
  4. Skep die mengsel in ‘n glas/metaalbak en plaas dit bo-op ‘n kastrol met kookwater in wat prut. (bain marie)
  5. Roer tot die mengsel verdik en gaar is – ongeveer 7 minute.
  6. Skep uit en laat afkoel – verkieslik oornag sodat die smeer lekker dik kan word.
  7. Voorverhit die oond tot 150 °C.
  8. Voer 2 x 12 holte muffin pannetjies uit met muffinpapiertjies, en spuit dit goed.
  9. Meng die koekiekrummels en die botter tot net gemeng. Verdeel tussen die muffin holtes en druk goed vas. Hou eenkant.
  10. Vulsel: Plaas die suiker en roomkaas in ‘n staande mengbak. Klits tot glad. Voeg die eiergele by en klits tot net gemeng. Skraap die kante ook van die mengbak af om seker te maak dat alles gemeng word.
  11. Voeg die meel, suurroom, skil en sap by en klits tot net gemeng en glad.
  12. Verdeel die mengsel tussen die muffin holtes. Bak vir 40 minute. Skakel die oond af en hou die deur toe vir 1 uur. Verwyder uit die oond en laat afkoel.
  13. Meringue: Verhit water in ‘n kastrol waaroor ‘n mengbak sal pas. Klits die eierwitte saam met die suiker in ‘n glas/metaal mengbak bo-oor die water wat net prut. Klits tot die eierwitte warm voel of ‘n temperatuur bereik het van 60 °C.
  14. Skep die mengsel in ‘n staanklitser en klits tot die mengsel glansend is en die meringue styf is – hierdie proses vat ongeveer 10 minute.
  15. Skep ‘n lepel suurlemoensmeer bo-op elke kaaskoekie.
  16. Plaas die meringue in ‘n spuitsak en spuit die meringue dan bo-op die kaaskoekies.
  17. Gebruik ‘n ‘steekvlam’ (blow torch) om die meringue te skroei tot dit net mooi ligbruin is.

Nota: Die suurlemoensmeer lewer meer smeer as wat nodig is vir hierdie resep. Jy kan die res in ‘n mooi glasbotteltjie bêre. Dit is ‘n heerlike vulsel vir meringue doppies of jy kan dit gebruik om ‘n heerlike suurlemoensmeer roomys te maak…

One Comment Add yours

  1. Heinrich Vermeulen says:

    Blah

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *