Karamel appel kaaskoek

Ek begin vandag sommer met ‘n lekker resep – die ongelooflikste kaaskoek – geniet dit!!

Karamel:

500 ml suiker
180 ml botter, by kamertemperatuur en in klein blokkies gesny
250 ml room
5 ml vanielje geursel

Karamel appel vulsel:
30 ml botter
3 granny smith appels, geskil, kern verwyder en in 1 ½ cm blokkies gesny
5 ml gemaalde kaneel
2,5 ml gemaalde neutmuskaat
1 ml sout
15 ml suurlemoensap
125 ml karamel

Kors:
250 g kaneel gegeurde tennis koekies, fyngemaak
125 ml botter, gesmelt
30 ml suiker

Kaaskoek:
800 g roomkaas
250 ml strooisuiker
5 ml vanielje geursel
4 eiers
250 ml suurroom

Bolaag:
125 ml meel
125 ml bruinsuiker
10 ml kaneel
60 ml gekapte amandels
30 ml yskoue botter, in blokkies gesny

Ekstra karamel vir bo-oor

1. Voorverhit die oond tot 160 °C. Voer ‘n 23 – 26 cm losboomkoekpan uit met bakpapier en smeer goed. Voer die buitekant van die pan uit met foelie.
2. Karamel: Verhit die suiker in ‘n goeie kastrol oor medium hitte. Skud die pan om die suiker te beweeg, maar moenie dit roer nie. Verhit tot die suiker gesmelt is en ‘n karamelkleurige stroop verkry word.
3. Sodra die suiker die regte kleur is kan die botter by gesit word. Klits nou goed tot al die botter in die karamel opgeneem is. Verwyder van hitte en voeg die room en geursel by. Indien klonte vorm, voeg net die kastrol weer op die hitte en roer tot al die klonte weg is. Laat staan die karamel vir ten minste 15 minute.
4. Karamel appel vulsel: Verhit die botter in ‘n kastrol en voeg die appels, speserye, sout en sap by. Prut tot die appels sagter is – ongeveer 5 minute. Voeg nou die karamelsous by en prut vir ‘n verdere 3 minute. Laat afkoel.
5. Kors: Meng al die bestanddele saam en druk in die koekpan se bodem en kante vas.
6. Kaaskoek: Klits die roomkaas tot sag, en voeg dan die suiker en vanielje by. Klits die eiers een vir een by en klits laaste die suurroom in.
7. Bolaag: meng die meelk, botter, kaneel en amandels. Vryf die botter in tot dit goed ingemeng is.
8. Samestelling van kaaskoek: Gooi die helfte van die kaaskoekmengsel bo-op die kors, gevolg deur die karamel appel vulsel. Bedek met die res van die kaaskoekmengsel. Sprinkel die bolaag bo-oor. Plaas op ‘n bakplaat en bak vir 20 minute.
9. Verlaag die temperatuur na 135 °C en bak vir ‘n verdere 1 uur en 15 minute. Skakel die oond af, maak die deur oop en laat die kaaskoek in die oond bly vir ‘n verdere 30 minute. Laat heeltemal afkoel en plaas dan in yskas.
10. Bedien met die ekstra karamel bo-oor.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *